Is Jesus die Messias?
Ons hoor dikwels van Jesus en dat Hy ons gered het deur vir ons aan die kruis te sterf. En elkeen wat in Hom glo, het die ewige lewe.
Om ons lewens te red – dit is die rol van die verwagte Messias... Maar is Jesus die ware Messias, of moet ons op iemand anders wag?
Die meeste van die inligting oor die Uitverkorene, die Een wat ons almal sal red, kry ons uit die boek van die profeet Jesaja, wat omstreeks die 8ste eeu v.C. geleef en geprofeteer het. Dit was ongeveer 700 jaar voordat Jesus gebore is.
Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. En Hy het 'n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.( Jesaja 11:1-5 )
Ons verwag dat die Messias 'n afstammeling van koning Dawid sal wees…
Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer. So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel: Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, as 'n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.( Jesaja 42:1-7 )
Hier sien ons dat die “kneg” nederig sal wees, nie sy stem in die openbaar sal verhef nie, en die oë van die blindes sal oopmaak…
Wat vertel Jesaja nog in sy boek oor Hom? Hoe sal ander mense die Messias behandel? Wat het met Hom gebeur en wat beteken dit vir ons? Om dit te beantwoord, spring Jesaja vorentoe na die toekoms en praat direk met ons, oor die Messias wat ons reeds verwerp het.
Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte--dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders--ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote--wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom 'n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.( Jesaja 53:1-12 )
Ons sien dat die verwerpte en veragte Messias vir ons sondes gesterf het, soos 'n lam wat geslag word. Hy het sonder nakomelinge gesterf, en tog sal Hy “lank lewe” en “baie nakomelinge hê”. Dit beteken waarskynlik dat die Messias na sy dood opgewek sal word, op aarde of in die hemel, en kinders sal hê, hetsy biologies of geestelik.
Lees nou, as 'n oefening vir jouself en om te besluit of Jesus die verwagte Messias is, die getuienisse oor Jesus Christus van Matteus, Markus en Johannes, wat 'n groot deel van hulle lewe persoonlik saam met Jesus deurgebring het, en van die geneesheer Lukas, wat noukeurig feite oor die lewe van Jesus Christus van Nasaret versamel het…